TUISBLAD :: KONTAK ONS
HOME :: CONTACT US
 
 

 

Hierdie bladsy is soos groepterapie!
Antwoord gerus ander ouers se vrae, verskil
van ons of kry sommer 'n warm debat aan die gang!
Praat jou prate en gee jou rate!
This forum is like group therapy!
Please feel free to answer other parents,
differ from us or get a good debate going!
Say your say and give advise!

 

 
 
 

?
Michelle
July 28, 2010 - 11:32
Subject: Bottel

Hallo julle! Dis jammer om te sien dat die forum so stil is - ek geniet dit vreeslilk baie om te lees en deel te neem.

Ons seuntjie is nou 2.5 jaar oud en hy drink nog bietjie melk in sy bottel as hy gaan slaap en ook as hy wakker word soggens. Hy is vreeslik geheg aan sy dummy van die begin van die jaar af (sy baba boetie is in Feb gebore - dalk iets daarmee te doen.)Hy slaap in sy eie kamer en ook in 'n bedjie van omtrent so maand gelede.

Hy het homself begin potty train in Mei en ons het ook van toe af agtergekom dat sy nagdoek elke oggend droog is - ons het dit ook weggeneem en dit hy het nooit 'n glips deur die nag gekry nie - tot nou.

Ons probleem is dat hy vir omtrent 5 dae nou elke aand 'n glips kry deur die nag en hy staan elke aand op en kom slaap by ons in die bed (dit gebeur egter al vandat hy agter gekom het hy kan self uit sy bedjie klim).

Ons gee nie om dat hy by ons slaap nie van omtrent 10h af (alhoewel ons alleen tyd ook mis)- is dit verkeerd? Moet ons hom liewer terug dra na sy bedjie toe? Vind hy regtig sekuriteit daarin of is dit sommer net omdat hy kan?

En dan waarom kry hy nou ewe skielik glipsies? Ek het gelees dat slaap apnee soms die oorsaak is. Sal albei probleme hulle self dalk oplos as ons sy bottel heeltemal wegneem? Ek het al Hettie se cd oor "dummies, tietie en bersies geluister" Ek kan net nie agterkom of hy regtig sekuriteit vind in die bottel nie of is dit sommer net lekker. Behalwe vir die nuwe baba en begin by speelskool in Februarie was daar nie groot veranderinge of aanpassings nie. Dankie julle!

Reply to Michelle
Susan Lombaard
July 29, 2010 - 11:56
Subject: Re: Bottel

Hi daar Michelle
Ek lei af dit beteken hy kry sy glips by julle in die bed - wat nie 'n baie lekker ervaring is nie ne! :-) Ek het ook al wakker geword met daardie warm gevoel...!
Dis nogal 'n komplekse vraag (vrae) wat jy vra, ek gaan my bes probeer.
Eerstens: Aangesien hy nog nie lank gepotty-train is nie, kan dit wees dat hy eenvoudig nog nie fisiek heeltemal reg is hiervoor nie. Seuntjies se vermoe om in die nag te knyp, ontwikkel fisiek later as dogtertjies s'n, so dit kan eenvoudig wees dat sy lyfie nog nie heeltemal gereed is nie (al het dit nou vir 'n ruk goed gegaan). Ek sal voorstel dat jy maar weer die nagdoek aansit sonder om 'n "fuss" daarvan te maak, en gee dit nog 'n maand of wat.
Daar is natuurlik altyd die moontlikheid van 'n blaasinfeksietjie wat glipse kan veroorsaak, maar met seuntjies is dit nie so waarskynlik soos met dogtertjies nie. Hou dus net dop vir tekens soos pieps wat brand.
Ek dink nie apnee is die probleem nie. Apnee is 'n redelike ernstige probleem wat allerhande ander simptome ook sal he - dis mos waar hulle vir oomblikke ophou asemhaal. Jy sal beslis weet as daar so 'n mediese oorsaak is.
Ek dink ook nie jy moet dit as 'n "probleem" sien nie, daarvoor is hy nog te klein en is julle nog te vroeg in die potty training-stadium. My dogtertjie is 4 en kry steeds so 1 maal per maand 'n nagglips! Ek dink eerlik dis 'n fisiologiese ongereedheid.
Oor die bed: Verseker moet julle daarna streef dat hy in sy eie bed slaap! Dit gaan eenvoudig daaroor dat hy moet leer pappa en mamma se bed is hulle s'n en hy respekteer jul privaatheid. Daar is sekere goed wat net pappa en mamma s'n is - dis gesond en reg so.
Dis nou die maklike antwoord, ons klein klits kom klouter self ook maar graag by ons in die bed!
Verduidelik voor slaaptyd vir hom dat hy in sy eie bedjie gaan slaap. Maak seker hy voel veilig, met 'n nagliggie (indien nodig), teddiebeer ens. Dink ook aan 'n motiveringsmetode soos 'n motiveringskaart (sien elders op Immergroen se website), of iets spesiaals wat hy in die oggend mag doen as hy in sy eie bedjie geslaap het. Herinner hom daaraan voor hy gaan slaap. As hy i ndie nag kom inklim by julle, dra hom terug (terwyl hy nog wakker is) en herinner hom weer aan sy beloning.
As hy ontsteld raak, kan julle 'n reel maak soos dat hy bv op 'n matrassie by julle op die vloer mag slaap. MAAR dan moet hy self die matrassie gaan uithaal, self sy beddegoed na julle toe sleep en homself tuismaak. Dis SO baie moeite dat hy waarskynlik na 'n nag of twee gaan besluit om liewer in sy eie bed te bly!
As daar ander redes is waarom hy by julle kom inklim, bv nagmerries of onsekerheid oor iets waarvan jy bewus is, is dit natuurlik 'n ander situasie - maar hierdie klink (soos jy ook se) tipies maar net na 'n outjie wat agtergekom het wat hy kan doen.
Ek wil weer beklemtoon dat slaap sonder kinders in die bed uiters belangrik is. Ons het 'n reel in ons huis dat ons meisiekind by ons kan kom inkruip as sy by haar gordyn uitloer en sien dis nie meer pikdonker buite nie (dus vroegoggend). Besluit wat is die reel vir julle, en hou daarby, al gee dit 'n nag of twee se groot gevegte af.
Baie sterkte!

Ineke
July 24, 2010 - 15:53
Subject: Super heros

My seun is nou 2 en 'n half, en jaag al reeds, al wat 'n super hero is na. Ek kry die idee hy vou onder groeps druk. Is dit moontlik op daardie ouderdom? Van die maats by die skool het Ben 10 sakke, hemde ens. dit is amper asof sy selfbeeld 'n knou kry omdat ek nie ook op die Ben 10 wa wil spring nie. Ons het dieselfde pad gestap met ironman, superman en ja al daai nuwe vreemde kreature. Hoe op aarde verduidlik jy aan 'n twee en half jaar oue kind, hy is 'n unieke wese geskape na die beeld van God, en dat hy nie die goed nodig het om iemand te wees nie. Hy het nog nie een van die flieks of strories van enige van bogenoemde heros gesien nie, maar hy ken elkeen op die naam, en elke geluid wat saam die hero kom. Ek weet ons is kinders van God binne in 'n werklike wereld, hoe op aarde beskerm ek my kind teen daai goed sonder om altyd die mamma te wees wat net nee se vir als?

Reply to Ineke
Susan Lombaard
July 29, 2010 - 11:32
Subject: Re: Super heros

Hallo Ineke!
Jong, ek sien met die seuntjies die groepsdruk is baie groter as met die dogtertjies! Ons dogtertjie-mammas het darem net Barbie om oor bekommerd te wees - nie die ideale rolmodel nie maar darem beter as Ben10!
Dis inderdaad so dat seuntjies baie makliker onder groepsdruk vou. Weet jy dalk watter temperament (boompie) is jou seuntjie? Dit het ook natuurlik 'n invloed oor hoe beinvloedbaar hy is.
Op sy ouderdom is hy nog te klein om die geestelike te verstaan daarvan dat hy na die beeld van God geskape is - jy gaan nie ver kom met die argument nie. Jy moet vir hom probeer verduidelik op 'n vlak wat hy gaan verstaan. Moenie jou seuntjie se gees en onderskeidingsvermoe onderskat nie. Ek sien met my dogtertjie (nou 4) dat sy gou-gou raaksien as iets in 'n karakter of storie haar ongemaklik laat voel. Dalk moet jy saam met jou seuntjie gaan sit en krities na hierdie karakters kyk. Bv Ben10 - wat is daar in die agtergrond? Hoe laat dit jou hartjie voel? Maak dit jou bang of bly?
Dan sal jy en jou man ook maar 'n besluit moet neem oor watter superheroes toelaatbaar is en watter nie. Superman is immers darem 'n goeie rolmodel! Hy doen goeie goed en is 'n outjie met integriteit! Kyk veral na die geestelike van hierdie stories. Baie hiervan (soos julle sekerlik weet) het 'n baie sterk demoniese element waaroor daar nie eens twyfel is nie. Ander doen net wilde goeters, en dan is daar die "soet" outjies soos Superman.
As julle dan 'n superhero of twee gekies het waarmee julle gemaklik is, sorg dat julle dit "push" sover julle kan sodat hy sommer van al die ander ongure karakters vergeet.
Nee wat, jy is sy ma - jy mag maar nee se en besluit wat goed en sleg is vir hom! As hy 'n tiener is en al sy vriende spring dalk op die dwelmmisbruik-wa, gaan dit nie oor sy selfbeeld nie maar oor sy behoud! As hy nou al leer dat hy self moet onderskei tussen wat vir hom goed en sleg is, sonder om te kyk wat sy maatjies doen, gaan daardie keuses later in sy lewe baie makliker is.
Hoe ouer hy word, hoe minder inspraak het jy en hoe meer keuses kan hy self maak. Gee dus nou sterk leiding en neem saam met hom/namens hom besluite terwyl jy nog kan, sodat hy kan leer hoe om later te kies.
ek hoop dit help... Sterkte!

Igna
July 21, 2010 - 12:26
Subject: Sakgeld

Kan iemand my asb bietjie raad gee rondom die kwessie van sakgeld? Wanneer begin mens, hoe hanteer mens dit? Ons dogtertjie het Mei 6 geword. Sy het geldjies met haar verjaarsdag gekry en haar oupa gee somtyds sommer net vir haar 'n ietsie. Wanneer sy dan 'n lekkertjie of iets wil he sal ek dat sy van haar eie geldjies gebruik. So het ons bv van haar verjaarsdaggeld gebruik om vir haar winterspj's te koop. Sy het egter nog nie regtig 'n begrip van baie en min geld en die verskil tussen iets wat R5 kos en iets wat R100 kos nie. Sy weet wel as sy 2 R5 het, het sy R10.

lyla
July 14, 2010 - 16:00
Subject: kind luister nooit vir my nie...

hi julle,my dogtertjie is amper 4 jaar oud, en sy is op die staduim n palm/roosboom en ek is n suurboom, my probleem is dat sy nooit vir my luister maak nie saak of ek nee se of n opdrag gee om iets te doen... dit voel al of ek als 10x keer moet oor se en dit frustreer my vreeslik,en maak my so moeg,as ek mooi praat luister sy nie,as ek raas ook nie,ek weet nie hoe om haar te kry om te luister nie... ek is regtig moedeloos, verwag ek te veel van haar, om bv iets op te tel,tande te borsel,aan te trek ens. want sy kan sulke goed doen sy kies net om my te ignoreer???

Reply to lyla
Fredine
July 15, 2010 - 10:00
Subject: Re: kind luister nooit vir my nie...

Hi Lyla, kinders is baie slim en weet presies waar ons "aksie-grens" is. As jy gewoonlik 5 keer praat, dan histeries raak en dan oorgaan tot aksie, gaan jou kinders ongelukkig eers luister net voor jy oorgaan tot aksie! Dit beteken jy gaan heeldag praat en meeste van die tyd histeries en gefrustreerd wees. Praat een keer (kalm) en as hulle nie luister nie - gaan oor tot aksie - doen dit so paar keer, en dan sal hulle weet as mamma een keer kalm gepraat het en ek reageer nie is dit haar aksie-grens. Hulle toets maar gereeld daardie grens, en jy moet maar net konsekwent bly, veral ons rosies en palmpies, hulle leer nie eintlik as hulle hoor nie, hulle moet maar voel ... soms 'n paar keer voor hulle besef hulle gaan nou nie meer weg kom met wangedrag nie. Moet ook nie te bekommerd wees om jou roos-palm te straf nie, hulle reageer baie goed daarop en sal nie emosionele skade ly nie. Dit is maar baie inspanning aan die begin om elke keer te straf as hulle nie dadelik luister nie, maar dit is die moeite werd, hulle leer vinnig - een daar mag dalk 'n dag kom wat jy graag wil he sy moet die eerste keer luister as jy se moenie oor die straat hardloop nie...

Maak seker jou kind hoor en vertaan die opdrag - dit help noggal om 'n palmboompie se naam te noem, aan hulle te raak en oog kontak te maak wanneer ons 'n opdrag gee - en as hulle dan nie die eerste keer luister nie, moet hulle maar voel!

Baie sterkte

Reply to lyla
Susan Lombaard
July 15, 2010 - 13:06
Subject: Re: kind luister nooit vir my nie...

Hi Lyla
Ek wil graag byvoeg: jou meisiekind is ook maar op 'n stadium (4 jaar) waar sy jou gesag gaan uitdaag en grense gaan toets. Net een van julle twee kan wen! So staan sterk en wees uiters konsekwent. Jy moet as die wenner uit die stryd tree om vir altyd die een met die gesag in julle huis te wees. Ek het ook 'n vierjarige meisiekind in die huis wat tans ons gesag uitdaag, so ek het baie simpatie... Baie sterkte!
Susan

Carin Luden
July 11, 2010 - 20:45
Subject: Maaitjies wil nie met my dogtertjie speel nie

Dit breek my hart in stukke as my 6 jarige sierpalm dogtertjie by my kom huil en sê: "Mamma niemand wil met my speel nie" of "Ek het nie 'n maatjie vandag by die skool gehad nie". Ek weet regtig nie wat ek dan moet antwoord nie. Sy is vreeslik dierbaar en sag. Wil so graag "please".

Reply to Carin Luden
Susan Lombaard
July 12, 2010 - 13:17
Subject: Re: Maaitjies wil nie met my dogtertjie speel nie

Hallo Carin
Sjoe, 'n ma se hart is darem maar geweldig weerloos!
Ek wonder sommer of dit gereeld gebeur dat jou dogtertjie hieroor by jou kla? Het jy al met die juffrou hieroor gesels? Dis belangrik dat jy probeer agterkom wat sit hieragter - wat is die rede daarvoor en is dit regtig so erg soos sy dit laat klink? Ek vra dit spesifiek omdat sy 'n sierpalmpie is - die sierboompies is tog so lief daarvoor om hulself jammer te kry en die palmboompies is natuurlik mal oor die aandag wat so iets genereer.
My dogtertjie (4) is ook 'n sierpalmpie en vertel gereeld vir my sy het maar heeldag gesit en niksdoen want niemand wou met haar speel nie - dan weet ek sy het gejol dat die stof staan! Maar ek weet die verskil tussen 4 en 6 is groot, en die hartjies is maar broos op 6-jarige ouderdom.
Ek dink dis nogal belangrik dat jou dogtertjie voel jy as ma tree in en help haar om hierdie situasie te hanteer. Die eerste stap sal wees om met die juffrou te gesels en uit te vind of dit wel die geval is. Hoor ook sommer of daar dalk 'n maatjie of twee/drie is met wie jou dogtertjie wel goed oor die weg kom. Kyk dan of jy nie 'n plan kan maak om een of meer van hulle oor te nooi nie - hou dalk 'n speelmiddag een Saterdag en nooi sommer die maatjies en hulle pappas/mammas oor.
Kyk hoe dit gaan en laat weet ons asb!
susan

Reply to Carin Luden
Fredine
July 15, 2010 - 09:41
Subject: Re: Maaitjies wil nie met my dogtertjie speel nie

Hallo Carin, my dogterjie het oor dieselfde gekla, toe het 'n ander vriendin vir my hierdie raad gegee - en dit het vir ons gewerk. Se vir jou dogtertjie as sy weer nie 'n maatjie het nie, moet sy mooi kyk op die speelgrond of daar nog 'n maatjie is wat niemand het om mee te speel nie, en dan moet sy vir daardie maatjie gaan vra of sy nie saam met haar wil speel nie. Dan oefen sy om te vra om saam te speel, ek dink soms is daar oorgenoeg maatjies om mee te speel, ons kindertjies is net gewoond daaraan dat al die aandag vanself na hulle toe kom, en party keer moet hulle vra om saam te speel!

Sampie
July 11, 2010 - 16:13
Subject: 28 Maandoue se Tantrums

Hello, ons 28 maande dogtertjie (roospalm) gooi nou die afgelope 3 weke die vreeslikste tantrums en ons begin nou wonder oor ons hantering daarvan. Ek besef sy is nou op die ouderdom daarvoor ook maar dit is erger as gewoonlik wat ons dink aangehelp is deur die feit dat sy waterpokkies gehad het (is nou net oor). Ons het haar oor algemeen gelos tot sy kalmeer (haar weggevat uit geselskap en gese sy kan klaar huil en ons roep as sy klaar is), maar die afgelope ruk skree sy so vreeslik dat ons wonder of ons haar moet pak slae gee as sy so begin skree (die keer wat ons dit gedoen het, het sy nog langer geskree en het die tantrum nog langer aangehou). Ons bly ook in Londen en met die bure wat so naby aan ons is het hulle al oorgekom om te hoor (is darem kerkvriende van ons) wat was fout, en nou begin ons wonder wat dink die ander bure dan nou ook en of dit okay is dat sy so skreeu? Sal graag wil hoor van ander ouers wat al hulle kinders so sien tantrum gooi het saam met 'n geskreeuery

Reply to Sampie
Anrie Spangenberg
July 13, 2010 - 14:33
Subject: Re: 28 Maandoue se Tantrums

Hallo Sampie,

Sjoe, julle het my innige simpatie - my meisiekind is ook 'n roospalm en daai tantrums kan letterlik die dak laat lig!

Dis belangrik om te onthou dat daai roosboompie in haar se lont permanent gloei - dit kort letterlik net 'n vonkie om in 'n ontploffing te ontaard wat op die Richterskaal registreer. So pakslae gaan hier nooit die regte uitwerking gee nie. Verder kan sy nog nie behoorlik kommunikeer nie en kan dus nie vir julle vertel wat die bron van haar woede is nie; wat haar net verder frustreer. Die palm in haar soek natuurlik die kalklig; en daarom gaan sy behoorlik konsert hou veral wanneer daar toeskouers is.

Wanneer sy 'n tantrum gooi, is die heel belangrikste dat julle twee kalm bly - om kwaad te word en te raas is net olie op die vuur. Sak af na haar toe, en praat in 'n sagte, kalm stem met haar. Kyk haar in haar ogies en vra dat sy rustig raak - gebruik taal wat sy kan verstaan, soos "saggies" "hou op raas" "raak rustig". As sy nie dadelik reageer nie (en sy gaan aanvanklik nie dadelik reageer nie); tel haar op en neem haar iewers heen waar sy kan afkoel. Julle is heeltemal korrek wanneer julle haar laat afkoel in haar kamer. Dis egter baie belangrik om agterna met haar te gesels en te verduidelik hoekom sy nie haar sin kon kry nie.

Julle kan haar ook begin leer om op te let wanneer 'n tantrum aan die kom is, bv. wanneer sy voel haar "koppie begin brand" of haar vuisies begin styf word, of sy wil haar voetjies stamp; dan kan sy eerder vir julle se: Mamma/Pappa, ek word nou baie kwaad!

Ek het met my roospalmpie gevind dat hulle dit haat om so beheer te verloor; en mettertyd het sy, wanneer sy so woedend raak, sommer self kamer toe geloop; en dan na 'n paar minute huilend teruggekom en self kom vertel (in 'n aanvaarbare stemtoon) wat haar so omgekrap het.

Dit is baie belangrik dat sy van kleins af leer dat 'n mens mag kommunikeer wanneer omstandighede of gebeurtenisse jou ontstel, maar dat daar 'n aanvaarbare en 'n onaanvaarbare manier van doen is. Tantrums mag nooit werk nie; want dan gee julle haar toestemming om altyd haar sin te kry deur 'n tantrum te gooi.

Moenie huiwer om met julle bure openlik te wees en te verduidelik dat die geskree strook met haar temperament en dat sy op 'n ouderdom is waar sy leer hoe om korrek te kommunikeer nie.

Baie sterkte! Laat weet gerus hoe dit gaan.
Groete,
Anrie

Tina
July 09, 2010 - 10:48
Subject: Sierboompie en Graad 1

Ons seuntjie is 'n sierboompie en tans in graad 1, die probleem is hy sukkel verskriklik om aan te pas. Ons en sy juffrou het nou al alles probeer om skool gaan vir hom maklik te maak. Hy is 'n eenkant kind wat nie meng met die ander maatjies nie en neem ook nie deel in klas aktiwiteite nie. Die skole begin nou weer dinsdag en ons senuwees is gedaan, dis glad nie lekker om jou kind by die skool te los en weet hy is baie ongelukkig nie. Juffrou het al voorgestel ons skuif hom na 'n skool wat klein klassies het, wat moeilik is aangesien klasse 30+ kinders het. Moet ons hom van skool skuif of gaan ons meer skade doen en ook waar kry mens klein skole?

Reply to Tina
Elizma Rudolph
July 15, 2010 - 13:54
Subject: Re: Sierboompie en Graad 1

Hallo Tina

Ongelukkig is dit so dat ons skole deesdae baie groot klasse het, wat vir die stiller, skaam kind dikwels oorweldigend kan wees.

Ek dink elke kind sal baat by kleiner klasse en meer individuele aandag. Dit kom egter teen 'n prys. Dit is gewoonlik net die privaatskole wat kleiner klasse bied. As julle dit finansieel kan bekostig, is dit 'n goeie opsie om te oorweeg. Dan is daar ook die tuisskool opsie, maar belangrik dan dat jou kind nogsteeds genoeg sosiale interaksie met ander kinders kry.

Party kinders sukkel met sensoriese sensitiwiteite wat funksionering in 'n groep vir hulle moeilik maak. Sensitiwiteite vir harde klanke/geraas, of probleme met balans en beweging, kan veroorsaak dat 'n kind van 'n groep onttrek of nie aan fisiese aktiwiteit wil deelneem nie. Ek wil voorstel dat jy jou seuntjie vat vir evaluasie deur 'n arbeidsterapeut om vas te stel of daar miskien 'n sensoriese probleem is wat deur terapie aangespreek kan word.

'n Praktiese idee is om een of twee maatjies in die klas te identifiseer met wie hy moontlik maatjies sou kon wees. Nooi hulle een op 'n slag huis toe om bietjie te kom speel. Sodoende sal hy vriendskappe in 'n bekende opgewing kan bou. Dit sal hom in die klas help as hy 'n goeie maatjie daar het. Selfs vir ons as volwassenes, is dit lekker om darem 1 persoon in 'n vreemde groep te ken

Onthou om hom altyd met baie liefde en aanvaarding te hanteer. Die spanning wat hy beleef is vir hom 'n groot realiteit. Gelukkig is hy oud genoeg om al goed te kan kommunikeer. Vat genoeg tyd en praat met hom oor wat hom pla by die skool. Miskien het iets by die skool gebeur wat hom ontstel het. Indien wel, kan dit aangespreek word. Miskien gee hy self die antwoord op julle probleme.

Ek hoop die raad help.

Groete
Elizma Rudolph
Immergroen fasiliteerder

Annelize
July 07, 2010 - 12:17
Subject: Nuuskierige agie of stout?

My dogtertjie van 7 is 'n denneboompie. Ek het die naweek uitgevind dat sy en maatjies (2 dogtertjies) by haar naskool "kleertjies uittrek en mekaar dan drukkies gee". Ek het aan haar verduidelik dat dit nie aanvaarbare gedrag is nie en wat toelaatbaar is ens. ens. en dit ook met die eienaar van die skool bespreek. Die eienaar het dit met die juffroues bespreek en belowe dat hulle meer paraat sal wees en ook dat hulle dit na die skoolvakansie met al die kinders sal bespreek.
Ten spyte van alles het my dogtertjie gister weer haar broekie afgetrek vir 'n seunjie - "wys my joune dan wys ek jou myne".
Sy was vantevore nie iemand wat enige belangstelling in daardie rigting getoon het nie. Ek het haar wel in die verlede vertel dat niemand aan haar lyfie mag vat nie ens.

My vraag is: wanneer is dit gewone nuuskierigheid en wanneer raak dit 'n probleem?

Ek probeer om dit so kalm as moontlik te hanteer, maar dit veroorsaak vir my en my man ontsettende spanning. Help asb!

Reply to Annelize
Anrie Spangenberg
July 13, 2010 - 14:59
Subject: Re: Nuuskierige agie of stout?

Hallo Annelize,

Ek kan verstaan dat julle baie gespanne oor die gebeure is.

Denneboompies is introvert en dit strook nie met hul temperament om die "leiding" te neem met die tipe van gedrag nie ('n mens sal dit eerder van 'n palmboompie verwag!).

Denneboompies is egter "pleasers" - hulle sal maklik vou onder druk om 'n maatjie tevrede te stel of om hul vriendskap te behou. Dit mag wees dat sy in 'n situasie was/is by haar naskool waar 'n ander maatjie die leiding gee, en sy bloot navolg om hulle tevrede te stel.

Dit kan dan ook wees dat sy dit ervaar het as 'n manier om iemand se vriendskap te verkry; en daarom die insident met die seuntjie agterna.

Op haar ouderdom het kinders nog min begrip vir seksualiteit en ek vermoed die probleem hier is eerder dat sy aan groepsdruk toegee om haar maatjies te behou, as enigiets anders - selfs nuuskierigheid.

Maak seker haar emosionele tenkie is vol, deur genoeg fisiese kontak met haar te he by die huis. Verseker haar ook deurentyd dat sy nie vriendskap en liefde hoef te "verdien" nie; en gesels openlik met haar oor wat gebeur het en hoekom dit onaanvaarbaar is vir julle.

Volg gerus met die naskool op of hulle met al die kinders gesels het; en vra ook dat hulle oplet of spesifieke maatjies betrokke is.

Baie sterkte en laat weet gerus as jy nog vrae het.
Groete,
Anrie

Angelique
July 04, 2010 - 22:22
Subject: Jok

HI My seuntjie is nou 5 1/2 jaar oud. Ek wil net graag weet , hoe moet ek dit hanteer as hy jok. En ek praat nie van dat hulle stories vertel nie. Jok van reg en verkeerd. Hoe moet ek hom straf? Om vir hom te kan leer dit is nie reg nie. En is daar n Bybel versie(s) om dit vir hom te verduidelik. ASB help my ek wil nie skede aan rig deur dit verkeerd te hanteer nie. DAnkie

Reply to Angelique
Jacqueline Morkel
July 06, 2010 - 19:43
Subject: Re: Jok

Hi Angelique

Dankie vir jou vraag op ons forum. Op 51/2 is kinders nog baie verbeeldingryk en die wereld tussen werklikheid en realiteit nog nie so gedefinieer nie. Dit is nie abnormaal dat hy op hierdie ouderdom somtyds jok nie. Mens sien dit ook veral by die sier en den temparemente wat dalk bang is vir die gevolge as hulle iets verkeerd gedoen het en dan sal se 'dit was nie ek nie'. Die palmpies doen dit uit hulle verbeeldingryke droomwereld en al die interessante stories wat hulle kan uitdink. Die spesifieke situasie en die kind se temperament sal bepaal hoe mens die situasie sal hanteer maar ek gee algemene raad. Die eerste stap sal wees om mooi met hom te gesels oor die verskil tussen fantasie en werklikheid en die lyn tussen die twee vir hom baie uit te lig, as julle bv stories kyk van voorwerpe wat praat dan gesels jy oor die fantasiewereld waar dit moontlik is maar in die werklikheid is dit nie moontlik nie. Dan sal jy ook mooi riglyne en grense neerle oor om die waarheid te praat. Ek het hierdie vir my 4 jarige verduidelik aan die hand van 'n paar voorbeelde en sommer ook stories wat ons in die aand vertel. So het ek hom bewus gemaak van die verskil tussen jok en die waarheid en ook wat die gevolg is wanneer mens nie die waarheid vertel nie - in my geval was die stories so dat die seuntjie seerkry omdat hy nie die waarheid vertel nie. Kinders kan so baie leer uit stories wat ons sommer net in die gesels en lekker tye vertel. My raad sal wees om nie in hierdie geval dit nie eers in 'n Goddelike perspektief of met bybelvers te doen nie. Jy se bloot net wat reg en verkeerd is. In ons kursusse gesels ons oor die ontwikkeling van kinders wat help om te weet wanneer ons kinders watter waardes inneem en ontwikkel. 'n Mens sal eers later wanneer jy hierdie alles deurgepraat het en seker is jou kind verstaan dit heeltemal, dan begin straf wanneer jy agterkom dit hou aan. As jy al die bogenoemde wel gedoen het sal ek graag meer detail wil he oor die situasie voordat ons oor 'n gepaste straf gesels aangesien ons dit graag oorsaakverwant wil doen. Ons gesels in die kursusse ook oor watter tipes straf gepas is vir die tipe optrede so die kursus sal werklik vir jou baie beteken as jy dit kan bywoon. Groete.

Janet
June 25, 2010 - 12:58
Subject: Help! My roosboompie weier om haar medisyne te drink!

JUlle, ek is amper in trane. My 2 en 'n half-jarige moet anitbiotika neem vir haar verkoue, maar ek kry nie die goed by haar keel af nie! Ons het beloning en omkoop probeer (sweeties as sy medisyne drink), ons het probeer verduidelik dat dit haar help en beter maak. Ons het dat sy klein bietjie proe en sien dis nie so sleg nie. Laastens het ons haar vas gehou en die goed by haar mond met 'n inspuiting ingespuit, maar sy spoeg dit net alles weer uit! Ek hou haar mond vas en le haar agtertoe dat sy amper op die goed verstuk! My kind skree en huil en smeek "Nee mamma." Ek voel vreeslik. :( Enige raad sal baie waardeer word!

Reply to Janet
Anrie Spangenberg
June 25, 2010 - 14:36
Subject: Re: Help! My roosboompie weier om haar medisyne te drink!

Hi Janet,

Ek kry sommer sulke "flashbacks" van my roosboompie wat die panado stroop in my gesig gespoeg het - dit brand soos seep!

As jy kans sien om weer die inspuiting te gebruik, gee haar 1ml op 'n slag ipv die hele 5ml gelyktydig. Pak voor die tyd 5 lekkers uit sodat sy na elke 1ml 'n lekkertjie kan eet (om die smaak weg te neem).

Maak ook seker haar neusie is oop wanneer sy medisyne moet drink, partykeer sukkel hulle bloot om asem te kry wanneer hulle moet sluk. Dis ook moontlik dat haar keel seer is en sy daarom probeer vermy om te sluk.

As die antibiotika nie 'n te sterk smaak het nie (die gewones is darem nie te bitter nie); meng dit in 'n bietjie van haar gunsteling eetgoed - joghurt, vla of selfs gegeurde melk - maak net seker die porsie is klein genoeg dat sy dit alles gaan eet of drink en die hele dosis medisyne gaan inneem. Probeer dit doen sonder dat sy agterkom:-)

Baie sterkte! Ek hoop sy voel sommer gou beter!
Anrie

Reply to Janet
Fredine le Roux
July 07, 2010 - 09:12
Subject: Re: Help! My roosboompie weier om haar medisyne te drink!

Hi Janet,

Kyk wat gebeur as jy die spuitnaald vir haar gee dat sy dit op haar eie tyd self in haar mond inspuit. My skoonsus se dogtertjie het so vir 20 tot 30 minute met die spuitnaald vol medisyne in haar mond rond geloop, maar eiende laaste het sy darrem alles gedrink!

Baie sterkte, ek dit is soos Anerie sê, mens kry eintlik flashbacks! Ek en my man moes 'n spanpoging aanwend om medisyne in ons oudste dogtertjie se keel af te kry - ek het al gewonder of daar nie antibiotika in die vorm van setpille op die mark is nie...

Reply to Janet
Annelette
July 08, 2010 - 11:45
Subject: Re: Help! My roosboompie weier om haar medisyne te drink!

Wat vir my dogtertjie soos 'n bom werk, druk haar neus toe terwyl sy medisyne drink. Mens kan mos nie proe as jou neus toe is nie. Wat iemand ook voorgestel het, laat sy aan 'n blokkie ys suig so rukkie voor die tyd, dit maak die mond koud wat ook help. Sterkte

Reinet Kotze
June 24, 2010 - 21:18
Subject: Beloningstelsel

Hi, ek wil graag die beloningstelsel wat julle het, vir my palmboompie koop, maar kry dit nie reg op die website nie. Ek het gemail en gevra wat ek moet doen, maar nog nie reaksie gekry nie. Hoe kan ek dit aankoop?

Reply to Reinet Kotze
Reinet Kotze
June 24, 2010 - 21:31
Subject: Re: Beloningstelsel

Goed, ek dink my bestelling is deur, maar hoe betaal ek? Waar is die bankbesonderhede?

Reply to Reinet Kotze
Riana Prins
July 05, 2010 - 08:39
Subject: Re: Beloningstelsel

Hallo Reinet
Die bankbesonderhede verskyn op die hoofblad regs onder.
Hoop jy kom reg!
Groete

Gertie du Plessis
June 21, 2010 - 20:32
Subject: Nuwe intekenaar

Hallo almal

Eks 'n nuweling by Immergroen. Alles klink so opwindend en interessant, maar daar is 'n paar goed wat ek nie lekker verstaan nie.

Ek't nog nie die kursusse geloop nie en wonder of ek als wat in die kursusse behandel word, deur die pos kan doen en die CD's dus kan aankoop.

Ek sal ook graag wil uitvind wat elke boomtipe beteken en wat hulle voorkeure en afkeure is en hoe om hulle te hanteer. Ekt nogals 'n baie woelige seuntjie - 3 jaar - (tipiese ADHD engeltjie) en hy is wonderlik, maar alhoewel hy die dierbaarste ding kan wees, kan hy soms onmoontlik wees en werk pakslae nie eens vir hom nie.

My meisiekind -1jaar- is my kwaaivrug. Sy toon nogals baie tasdefensief te wees en raak vinnig gefrustreerd as sy nie iets reg kry nie. Sy is bietjie van 'n drama queen en kan nogals lank en hartseer huil as jy bietjie met haar raas - wat my baie pla is sy byt met tye en slaan graag na 'n mens. Ek kan nie onthou dat my seuntjie so was nie en eks ook nie seker waar sy dit geleer het nie, hoe pas ek disipline met haar toe.

Ek geniet beide my kinders ongelooflik baie en dit is vir my baie belangrik dat hulle 'n goeie en gesonde gees sal huisves. Ek wil nie hê my kinders moet eendag verantwoordelik wees vir ander kinders se seer nie.

Dankie vir die bladsy - dis fantasties

Gertie

Reply to Gertie du Plessis
Susan Lombaard
June 22, 2010 - 14:45
Subject: Re: Nuwe intekenaar

Hallo Gertie
Baie welkom by Immergroen!
Oor die kursusse en materiaal: Jy kan die CD's vanaf hierdie webwerf aankoop, maar die kursusse bevat materiaal wat in geen van die boeke, CD's en DVD's voorkom nie. Dis juis bedoel om in 'n groep interaktief met ander ouers te deurloop, sodat julle ook by mekaar kan leer. Jy sal nie spyt wees as jy 'n kursus gedoen het nie! Kyk gerus uit vir een in jou area. As jy en jou man dit saam kan doen, soveel te beter. Julle kinders is op die ideale ouderdom daarvoor.
Ek stel ook voor dat jy solank vir jou "Kweek kinders met karakter" aankoop. Dit gaan baie van jou vrae beantwoord tot tyd en wyl jy 'n kursus kan bywoon.
As ek vinnig moet raai uit wat jy se, klink jou seuntjie vir my na 'n palmboompie. Die outjies is nogal 'n uitdaging en moet met groot pret en kreatiwiteit maar ook 'n baie streng hand grootgemaak word!
Jou dogtertjie klink nogal na 'n sierboompie - hulle wil goed regkry, wil mense beindruk, wil tog net alles perfek doen en kan so gefrustreerd raak as dinge nie vir hulle reg uitwerk nie. Drama queens, ja!
Daar's baie wat mens kan se oor hul albei se dissipline en temperamente. Dit sal wonderlik wees as jy "Kweek kinders met Karakter" kan aanskaf om jou hope antwoorde op jou vrae te gee.
As jy spesifieke vrae het, besoek tog gerus weer die forum en vra - ons almal help graag as ons kan!
Groete
Susan

Reply to Gertie du Plessis
Reinet Kotze
June 24, 2010 - 21:35
Subject: Re: Nuwe intekenaar

Ek wonder of jy vir jou kinders omega -3 aanvullings gee? En ADHD kinders het zinc en magnesium nodig om hulle te help konsentreer en rustig wees. Lees gerus die boek Optimum Nutrition for your child's mind van Patrick Holford. Ek het die oplossing vir my amper 5-jarige palmboompie daarin gekry en agtergekom omega-3 is 'n groot tekort by kinders en dit veroorsaak sooooo baie dinge. Van ekseem, asma tot ADHD kinders tot kinders met geen probleme nie, baat daarby. Ek is besig op die boek op te som en sal dit met plesier vir jou aanstuur per mail as jy nie die boek by jou biblioteek kan kry nie. 'n Nuwe wereld gaan oop as mens daardie man se boek lees. Hy behandel tot disleksie en outisme daarin. Probeer dit gerus!

Igna
June 19, 2010 - 23:24
Subject: Mamma het raad nodig

Hi almal
Ek is ma van 'n pragtige 6jarige dogtertjie, enigste kind. Ek werk vir myself wat baie voordele maar ook nadele inhou. Grootste nadeel is dat my inkomste elke maand minimaal is veral met die huidige ekonomiese tye. Dit veroorsaak ongelukkig groot stres aan my kant en dan kan ek nogal uithaak. Wat ek graag wil weet, en hoop iemand kan my bietjie help, is wat ek van my 6jarige kan verwag. Wat is tipiese gedrag vir 6jariges? Wat is die beste maniere van dissiplineer? Hoe verantwoordelik is hulle al op 6jaar? Ek is self 'n enigste kind wat gewoond is daaraan om my eie ding op my eie tyd en my eie manier te doen. Die probleem is dat ek na 6jaar steeds amper alles vir haar doen, haal die klere uit wat sy moet aantrek,(want sy gaan nie die regtes kies nie), borsel gewoonlik haar tande (want sy gaan dit nie reg/goed genoeg doen nie), vertel haar hoe haar kamer reggepak moet word, waar moet wat gaan (want sy gaan dit nie self gedoen kry nie). Ek het serious control issues, ek besef dit. En ek wil nie he sy moet negatief beinvloed word nie. Maar ek weet nie wat ek van haar kan verwag nie. Ek hoop ek maak sin?

Leave a Comment



Powered by TalkBack